2005/07/11
Daar is hier en daar interssante stemme wat opklink oor Tsotsitaal. Dis 'n soort streetwise patois wat op die straat ontwikkel het, 'n mengsel van Zulu, Afrikaans, Engels en ander invloede. 'n Tsotsi is 'n slegterik, of gangster, 'n bad guy. (verduideliking vir die buitelanders) Ek dink nie dis nodig om vir enigiemand wat Afrikaans groot geword het te verduidelik wat 'n tsotsi is nie. Maar soos wat dit dikwels gebeur in 'n rowwe buurt, is dit die tsotsi wat die mag het, dus kyk die kinders na hulle op. Dis hoekom die gangs so 'n mag het oor mense.
Blykbaar was Sophiatown een van die groot smeltpotte vir die taal. Natuurlik kan ons die voorvaders bedank dat hulle daai wonderlike plek moertoe gestuur het. Ek kan nog onthou hoe ek van wanhoop gehuil het die eerste keer wat ek verstand genoeg gehad het om te lees wat daar gebeur het. Die ongelooflike onmenslikheid, en destruktiwiteit uit vrees en onkunde gebore. Maar ek dwaal nou af.
Daar is byvoorbeeld hierdie item waar die skrywer betoog dat Tsotsitaal 'n verenigende middel in Suid Afrika kan word, en eintlik as nasionale taal bevorder sou moet word. Dis 'n intrigerende idee, maar natuurlik is dit geheel en al onwerkbaar. Nie terwyl daar sulke uiteenlopende mense nog aan verskillende kante van die kampvuur sit nie. Maar mens kan droom.
UPDATE: Hier is 'n moerse nice article oor die Tsotsitaal woordeboek van Louis Molamu, op die website van Henk Rossouw.
